Geloof het ‘n adres (Leef artikel Mrt 2018)

Geloof het ’n adres

’n Mooi prentjie

Deur Judith Kamffer | Foto’s Hanneri de Wet

Vir fotograaf Hanneri de Wet (35) en haar jong gesin is aanbidding dié geheime bestanddeel vir ’n vredevolle en vergenoegde lewe.

Dit is ’n koue en reënerige dag in Februarie. Pannekoekweer. En die reuk van kaneel hang warm in die lug. Hanneri staan kaalvoet in die kombuis met Rohann (18 maande) op die heup en ’n voorskoot om haar lyf. Christiaan (3) loer agterdogtig om sy ma se been na die vreemdeling in hul midde. Tog voel ek tuis. Ons drink rooibostee met vars heuning en eet pannekoek op die stoep terwyl die reën vertroostend oor Pretoria neersak. Later dans ons in die leefarea op die trom-begeleiding van die twee begaafde seuntjies. Ja, hul liefde vir die Here beier klokhelder in hul huis en lewens.

In die vreemde

Hanneri en Riaan (35) ’n argitek van beroep, het met ’n ompad ontmoet. In Londen. En dit het ’n paar ontmoetings geneem vir hulle verhouding om te pos te vat. “Ons het baie hulp nodig gehad … ” lag Hanneri. Tydens hul drie ontmoetings om presies te wees, het hulle albei in Londen gewerk. Riaan heet uit Natal en Hanneri vanuit Bloemfontein. “Ons sou mekaar nooit in Suid-Afrika raakgeloop het nie … ” sê Riaan beslis. Hulle vertel graag van hul eerste ontmoeting. “Ek het foto’s geneem van ’n popgroep en Riaan was ook daar. Ons albei het voor gestaan en ons albei se vriende het in die gehoor verdwyn. Ons het begin om met mekaar grappies te maak … Ons het so gelag! En dit was maar dit … ” vertel Hanneri.

Later het Hanneri en Riaan mekaar in ’n visum-kantoor raakgeloop. “Ek het ingestap en dadelik begin lag. My vriendin het gevra of ons mekaar ken … ‘Nee nie eintlik nie … ’ het ons gelag. Dit was toe dat ons onsself aan mekaar voorgestel het.” Die derde en deurslaggewende maal wat Hanneri en Riaan mekaar raakgeloop het was soos ’n toneel uit ’n romantiese komedie. “Ek was op pad na ’n Europese toer en moes met ’n verskriklike sak op my rug busstop toe hardloop. Toe ek by die bus aankom was Riaan ook daar. In die bus het hy gevra of hy langs my kan kom sit. Ons het so gesit en grappies vertel en skielik het die gedagte by my opgekom soos ’n klein stemmetjie wat sê ‘Sjoe, dit sal lekker wees om met jou getroud te wees … ’”

Riaan vul vir Hanneri aan: “Soos ons op die bus sit en praat het, het ons agterkom dat ons eintlik in dieselfde, relatiewe onbekende kerk, in Londen is. Sy wou ook in ’n stadium vir my ’n foto op haar foon wys en toe sy haar foon uithaal, het ons dieselfde fone óók.” Ons al drie giggel oor dié dinge wat maklik vir toeval misgis kan word. “Alles is presies soos dit moes gewees het,” glo Riaan. ’n Rukkie daarna moes Riaan terugkeer na Suid-Afrika en Hanneri het vir eers in Londen gebly tot haar visum 9 maande later verstryk het. “Toe ek terugkom het ek ’n nuwe beroep oorweeg omdat klankingenieurswese maar lang ure se werk is … Toe het ek begin om argitektuur te studeer. Hanneri was seker ’n jaar terug toe ons getroud is.”

Die Here is groter as enige kultuur. Christenskap is die enigste geloof wat vir ons ’n tuiste skep in enige kultuur.

Geloofswortels

Haar soeke om die Here buite haar kultuur te leer ken het Hanneri Engeland toe gestuur. “Ek het gevoel dat die Here só deel is van my kultuur … ek wou daarom bevestig het dat Hy groter is as kultuur. Dit is waarom ek spesifiek ander – en juis Engelse kerke – gaan verken het. Dit het ’n groot tema vir my in my lewe geword. Ons is geneig om die Here in ons kultuur te soek. Die Here is groter as enige kultuur. Christenskap is die enigste geloof wat vir ons ’n tuiste skep in enige kultuur.”

Riaan het as kind saam met sy ma kerk toe gegaan, maar in sy twintigs het hy begin voel dat godsdiens hom van die lekker dinge in die lewe ontneem. “Ek het nog altyd die Here se teenwoordigheid in die kerk ervaar … maar dan word jy ouer en jy sien en hoor wat al jou vriende doen en jy mag dít nie doen nie. Dit was een van die redes waarom ek Engeland toe is … en ek was altesaam vir vier jaar nie in ’n kerk nie. Ek glo dit was my ma en haar Bybelstudie-groepie se gebede wat my deur daardie tyd gedra het. En die feit dat sy nooit ophou bid het nie, het bygedra daartoe dat ek my pad terug kerk toe gevind het. Ek het nooit opgehou om aan en in God te glo nie.”

“Ek was ’n jaar in Londen toe is my oupa oorlede. En ek was verskriklik hartseer … maar ek het geweet waarheen hy is. Ek het terug gedink aan my oupa wat op sy knieë langs sy bed gebid het wanneer ons vir hom gaan kuier het. Dit was die keerpunt in my geloofslewe, want ek het besef as ek my oupa weer wou sien – hoewel ons nie weet hoe die hiernamaals werklik gaan werk nie – gaan ek my saak met die Here moet regmaak. Ek het ’n kerk gaan opsoek waarna my ma my verwys het waar hulle die bekende Alpha-kursus aanbied . Ek het met die Here onderhandel … ‘Ek gaan die Alpha-kursus doen en as ek na 10 weke nog nie die dinge het waarvoor ek bid nie, dan is dit waar ons paadjies skei’… En toe week 8 van die kursus aanbreek het ek besef dat ek steeds nie alles het waarvoor ek gebid het nie. Week 9 het ook gekom en gegaan. Die Sondag na die kursus verby is het ek gebid ‘Ek het nogsteeds nie alles waarvoor ek gebid het nie, maar ek voel tuis … Ek is terug.’ ’n Week na dit het ek ’n wonderlike nuwe werk gekry en twee weke daarna het ek vir Hanneri ontmoet. Alles waarvoor ek gebid het.”

“Ek voel ek het ’n verantwoordelikheid om my gesin in die geloof te lei.”

Ma en pa

Oor ouerskap en hul geloofsrol in hul kinders se lewens, praat hulle graag. Riaan onthou hoe hulle kleintyd as gesin elke oggend saam huisgodsdiens gehou het. “Ons het elke oggend saam uit die Bybel gelees en dan bid ons almal saam voor ons eet … Ek voel ek het ’n verantwoordelikheid om my gesin in die geloof te lei. Ons probeer só bid dat ons nie bloot God in ons lewens en ons huis innooi nie, maar dat ons bewustelik ons lewens, ons huis, ons finansies oorgee aan die Here. Dis Syne.” “Dit voel nie of ons lewe soveel verander het nadat ons kinders gekry het nie … ” voeg Hanneri by. “Dit voel net asof ons méér geword het. ’n Mens se gewaarwording van God verdiep ook so, want mens besef dat God as Vader naby en intiem betrokke is. ’n Vader-figuur is nie afwesig nie. ’n Pa ruil doeke om en sus kinders aan die slaap. ’n Pa is naby en betrokke.”

Hul seuntjies is nog klein, maar die paartjie glo dat hulle reeds ’n indruk van Wie God is by hulle kan tuisbring deur ’n tuiste te skep waar Christus en Sy aanbidding die huis vul. Hulle luister graag gospel-musiek en die tromspelertjies speel baie gretig saam op die stelletjie tromme wat hulle vir Christiaan se tweede verjaarsdag vir hom gemaak het. Pa en ma klap hande en sing terwyl die klein musikante om hul bene dans. Musiek vul die huis soos die reuk van pannekoek. En die Zach Williams Band sukkel om bo die de Wet gesin uit te sing: “I’ve got an old church choir singing in my soul … I’ve got a sweet salvation and it’s beautiful.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s